Daar is ‘n nuwe soort apartheid...
Deur Lindie Strydom
Daar is ‘n nuwe soort apartheid... of noem ons dit privaatheid? ‘n Soort afsondering wat jy “verdien” mits jy dit kan bekostig.
Die nuwe soort apartheid het niks met kleur en ras te doen nie, maar onderskei mense op grond van die hoeveelheid geld wat hulle het en die voorregte en klein hoekies wat dit vir hulle kan koop. Hoe meer geld, hoe meer privaatheid, hoe meer voorregte, hoe meer afsondering: “ek in my klein hoekie en jy in joune.”
By die lughawe mag die rykes in spesiale sitkamers ontspan waar daar gratis koffie en tee bedien word – selfs warm sop en lekker eetgoed. Dit word gratis gebied aan die een wat juis die super groot Wimpy-ontbyt self kon bekostig! Op die vliegtuig sit die rykstes heel voor en trek die lugwaardin ‘n gordyntjie toe om hulle vir die “gewone mense” weg te steek – of ek dink dis hoekom hulle die gordyntjie toe maak? Dis ryk! Ek hoop hulle gee baie geld weg.
Terwyl ek in my kop hulle tiende probeer uitwerk en tel hoeveel beurse ek daarmee sou begin, mis ek maklik my eie hoekies van rykdom. Ek kruip agter die rykes se oorvloed weg en dink niemand sien my gemaklikhede en oorbodighede waarsonder ek nie wil klaarkom nie. Ek handhaaf ‘n uitstekende laegraadse apartheid wat my net genoeg teen die armes buffer sodat hulle nie na my kyk om te help nie – ek is nie só ryk nie...
“By a conscious act of will let us stop denying our wealth. Rather than comparing ourselves to others like ourselves, so that we can always claim comparative poverty, let us become world citizens, looking at ourselves in relation to humanity. It is only when we admit to our wealth and quit trying to run from it that we are in a position to conquer it for God’s good purposes.” -Richard Foster
Dis eintlik nie ‘n nuwe verskynsel nie. Ek en jy is lankal ryk en die oomblik wat ons dít erken, gee ons die eerste tree uit ons klein hoekies uit.
Lees meer. |