Junie (3) Nuusbrief nr. 92

Kom ons doen iets pragtig vir die Here
Deur dr. Danie Langner

Tydens die Anglo-Boereoorlog is die Vrystaat en Transvaal tot as verbrand weens die verskroeide-aarde-beleid. By sy aankoms in Ficksburg het ‘n jong ds. Kestell verstom gestaan oor die verskriklike verwoesting wat die Britse troepe aan die dorp en distrik aangerig het. Sowat 270 plase asook die kerkgebou, pastorie en huise op die dorp was vernietig.

Kestell het die kerkraad meegedeel dat hy bereid is om die helfte van sy salaris in ‘n fonds te stort wat gebruik moes word om die armes in die gemeente en die gemeenskap op die been te help. Tydens sy intreepreek het hy gesê: “Wy zyn verarmd en verwoest... Vooral nu, in de treurige omstandigheden waarin ons land zich bevindt is de bliyde tijding van genezing en bevryding waarlyk een goede boodschap. Christus voorsiet in den nood en behoefte van den mensch.”

Kestell het later jare dikwels geskryf oor die seer van verliese wat hy in dié tyd as jong predikant in sy gemeente moes hanteer - die hartseer van ouers oor kinders en kinders oor ouers, en die seer van verlies aan kosbare besittings en erfstukke. Maar tog was daar oral ‘n gevoel van: “Die Britte het ons met die oormag van wapens ondergekry, maar geestelik sal hulle ons nie breek nie.”

Lees meer.

Kosblikkieprojek help gestremde kleuters en behoeftige ma’s
Deur Juanita du Preez

Helpende Hand se Kosblikkieprojek het aan die begin van Junie afgeskop met verskeie kosblikkiepartytjies wat vir kleuters by behoeftige kleuterskole gehou is.

Die 12 Vroue-takke het elk ‘n behoeftige kleuterskool in hulle omgewing geïdentifiseer vir die projek. Die takke sal by al hierdie kleuterskole ‘n kosblikkiepartytjie hou. As deel van die projek sal die kleuterskole maandeliks vir die volgende ses maande R1 000 se kruideniersware ontvang wat deur die Vroue-takke gekoop en afgelewer sal word. Hierdie kruideniersware sal die kleuterskole help om gebalanseerde maaltye vir die kleuters te gee. Die Vereniging vir Voorskoolse Opvoeding en Sorg (VVOS) het vir die kleuterskole resepte uitgewerk vir voedsame maaltye waarvoor min bestanddele benodig word.

Die Centurion Vroue-tak het bewus geword van ‘n 13de kleuterskool met besondere behoeftes. By Saryna Kiddi Care in Centurion word omgesien na 52 kleuters waarvan 26 gestremd is. Die koste per kleuter by dié skool beloop R2 000 per maand, maar min van die ouers kan dié bedrag bybring volgens die skoolhoof, Riana Joubert. Die kleuterskool het onlangs na ‘n nuwe perseel geskuif en die gebou word ingerig om aan die kleuters se spesiale behoeftes sal voldoen. ‘n Skenking van R5 000 deur die maatskappy Exorno gaan gebruik word om vir die volgende ses maande kruideniersware vir die skool aan te koop. Joubert sê die skool benodig dringend opvoedkundige speelgoed, tafeltjies, stoeltjies en eetgerei. Lees meer.

Om by die projek betrokke te raak, SMS die woord “hand” na 34388.

Daar is ‘n nuwe soort apartheid...
Deur Lindie Strydom

Daar is ‘n nuwe soort apartheid... of noem ons dit privaatheid? ‘n Soort afsondering wat jy “verdien” mits jy dit kan bekostig.

Die nuwe soort apartheid het niks met kleur en ras te doen nie, maar onderskei mense op grond van die hoeveelheid geld wat hulle het en die voorregte en klein hoekies wat dit vir hulle kan koop. Hoe meer geld, hoe meer privaatheid, hoe meer voorregte, hoe meer afsondering: “ek in my klein hoekie en jy in joune.”

By die lughawe mag die rykes in spesiale sitkamers ontspan waar daar gratis koffie en tee bedien word – selfs warm sop en lekker eetgoed. Dit word gratis gebied aan die een wat juis die super groot Wimpy-ontbyt self kon bekostig! Op die vliegtuig sit die rykstes heel voor en trek die lugwaardin ‘n gordyntjie toe om hulle vir die “gewone mense” weg te steek – of ek dink dis hoekom hulle die gordyntjie toe maak? Dis ryk! Ek hoop hulle gee baie geld weg.

Terwyl ek in my kop hulle tiende probeer uitwerk en tel hoeveel beurse ek daarmee sou begin, mis ek maklik my eie hoekies van rykdom. Ek kruip agter die rykes se oorvloed weg en dink niemand sien my gemaklikhede en oorbodighede waarsonder ek nie wil klaarkom nie. Ek handhaaf ‘n uitstekende laegraadse apartheid wat my net genoeg teen die armes buffer sodat hulle nie na my kyk om te help nie – ek is nie só ryk nie...

By a conscious act of will let us stop denying our wealth. Rather than comparing ourselves to others like ourselves, so that we can always claim comparative poverty, let us become world citizens, looking at ourselves in relation to humanity.  It is only when we admit to our wealth and quit trying to run from it that we are in a position to conquer it for God’s good purposes.” -Richard Foster

Dis eintlik nie ‘n nuwe verskynsel nie. Ek en jy is lankal ryk en die oomblik wat ons dít erken, gee ons die eerste tree uit ons klein hoekies uit.
Lees meer.

Dankies vir en van Helpende Hand
Deur Juanita du Preez

By Helpende Hand bedank ons gereeld individue, besighede en gemeenskappe wat ons met hulle verskeie bydraes ondersteun en ons werk effens ligter maak. Van tyd tot tyd kry ons ook ‘n dankie terug.

Die Laerskool Hendrik Louw in Strand het die volgende brief gestuur:

Hiermee wil ons u graag opreg bedank vir u ondersteuning. Elke fisiese en finansiële bydrae word opreg waardeer. Dankie vir u betrokkenheid by vele van ons kinders en gesinne. Sonder u sou ons nie hierdie moeilike uitdagings kon oorkom nie.

Die bydraes wat u maak, bring reuse verskille in vele se lewens. Ons vertrou dat ons in die toekoms steeds hand-aan-hand sal kan werk.

Met opregte waardering en dank.

Louwtjie-groete,

Hendrik Louw personeel
Moompi-ma’s
Die maatskaplike werkers

Helpende Hand se werk sal natuurlik nie moontlik wees as dit nie vir die ruim bydraes van die gemeenskap, besighede en individue was nie.

Helpende Hand bedank graag Aqua Agri Solutions in Bloemfontein wat lakens en handdoeke geskenk het. Dié broodnodige items is aan die Mooihawe Aftreeoord geskenk. Boonop het Helpende Hand se Bloemfontein Vroue in Aksie-tak vroeër vanjaar 13 bejaardes by die aftreeoord aangeneem wat nie familie of vriende het wat na hulle omsien nie.

Gesonde gesinne – waardes wat werk

In  vandag se Program van Hoop gesels Lindie met ouerskapkenner en skrywer, Hettie Brittz. Hettie is die stigter van ‘n opvoedkundige opheffingsprojek vir ouers en kinders in Proklamasieheuwel. Vandag vra Lindie haar gas: Is daar ‘n verskil  tussen ryk en arm gesinne se uitdagings? Is daar hoop as ek voel my gesin val uitmekaar? Watter waardes sal my kinders weerbaar vir die aanslae van die lewe maak?

Lindie gee ook terugvoer oor die afgelope Nasionale Handjievatdag. Verder gesels sy met Adri Basson oor ‘n terapeutiese werksessie vir ouers en kinders wat op 11 Junie 2011 aangebied is.

 

Bobaasberoepe

Luister gerus na die onderhoud en lees meer oor hierdie week se onderwerp by www.loopbaan.co.za. Klik hier. Die skakel kan ook op Helpende Hand se Facebook-blad gevind word.

Fliek: Like dandelion dust

Helpende Hand kry R1 vir elke fliekkaartjie wat verkoop word. Klik hier om na die voorskou te kyk.

 

Lemoenseisoen

Kort beskrywing:

Al wat Suzy van die lewe wil hê is ’n nuwe selfoon, dat haar dogter nie met ’n geskeide man moet uitgaan nie en ’n lyf langs hare wanneer sy in die oggende wakker word. Is dit te veel gevra?

Suzy moet leer dat die lewe soos ’n lemoen is. Dat jy die lastige pitte tussen jou tande moet uitspoeg voordat jy jou versadig kan drink aan die stroopsoete sappigheid daarvan.

Outeur: Kristel Loots
Prys: R165.00

Teken in op die nuusbrief

[CONTENT]